Tuis

Siklus Diagram

Wat is akwaponika?

Akwaponika is om met behulp van die hersirkulering van water ‘n gebalanseerde eko-sisteem boerdery te skep deur hidroponika (groente kweek sonder grond) en akwakultuur (visboerdery) simbioties te integreer. Die visse verskaf voedingstowwe vir die plante en die plante suiwer die water vir die visse.Die drie belangrikste komponente is:

  • Vis – voorsien ammoniakryke uitskeiding
  • Bakterië – omskep ammoniak na nitrite en dan na nitrate
  • Plante – neem nitrate op as voeding en suiwer so die water vir die visse
 

Waarom akwaponika?

Akwaponika is nie net ongewingsvriendelik, volhoubaar en met min afvalstowwe nie, dit is die toekoms van gesonde voedsel deurdat dit voedsel volkome organiese produseer (gewaarborg) – die visse kan geen antibiotika kry nie, want dit is sleg vir die groente en die groente kry geen kunsmis nie en kan nie met gifstowwe behandel word nie, want die visse sal vrek.

‘n Akwaponiese stelsel benodig min spasie en geen landbougrond nie. Jy kan dit dus enige plek doen – in die woestyn, in jou agterplaas of selfs teen jou woonstelmuur.

Dit is ‘n intensiewe boerdery en jy kan groente digter plant en ‘n hoër groenteopbrengs verwag as wat jy deur grondverbouing kry – voedingstowwe word na die wortels gebring.

Dit is voedselproduksie met die effektiefste waterbenutting, want die water sirkuleer in ‘n geslote sisteem – die naaste wat jy aan droogtebestand kan kom.

‘n Akwaponiese tuin is arbeidbesparend en sag op jou knieë, rug en hande (jy kan op ‘n gemaklike hoogte werk), jy het nie probleme met onkruid nie en jy kan groente van pluk direk na die tafel neem (geen grond wat eers afgewas moet word nie).

‘n Klein stelsel kan esteties mooi aangebied en selfs binnenshuis gedoen word.

Die besondersheid daarvan kan sorg vir ‘n hele aand se kuierbespreking met jou vriende.

Beide hidroponika en akwakultuur het sekere negatiewe aspekte:

  • Vir hidroponika word duur voedingstowwe benodig om die plante te laat groei en moet die stelsel ook periodiek uitgespoel word wat tot waterverliese kan lei.
  • By akwakultuur is dit nodig om goeie filters in te sit om afval te hanteer en is dit ook nodig om dikwels ‘n gedeelte van die water met skoon water te vervang.

Deur kombinering van hidroponika en akwakultuur in akwaponika, word hierdie negatiewes in ‘n positiewe omskep.

Die koste van akwaponika is minder as wat dit vir die som van afsonderlike hidroponiese en akwakultuur stelsels sou wees, want:

  • Met akwaponika word die kostes verbonde aan die negatiewe aspekte van onderskeidelik hidroponika en akwakultuur uitgeskakel.
  • Jy kry twee produkte vir een inset – jy dra net die koste van die visboerdery gedeelte, maar oes ook groente.

In kort: Jy spaar op grondspasie, arbeid, tyd, energie, voedingstowwe kostes en infrastruktuur.

Met ‘n boerdery van so min as twintig vierkante meter kan jy jou gesin van al hulle groente en vis vir ‘n jaar voorsien.